HUIS, PALEIS, PONDOK, VARKHOK

As mens Kaapstad binnery  van Somerset-Wes se kant af, met die berg voor jou, lê daar ‘n enorme plakkerskamp aan jou linkerkant – ek vermoed dit is Kayelitsha.  Die hutte staan so opmekaar dat mens dit inneem as een enorme ding.  Daar is nie ‘n manier dat jy een plakkershut van die ander kan onderskei nie.  Dit moet ‘n ellendige lewe wees in daardie hutte.  Mens kan jou regtig nie eintlik voorstel  hoe dit moet wees nie.  Een hut op die ander, geen privaatheid, wat praat nog van uitsig; dan nog brandgevaar…. ag, die lys is eindeloos.  Vaal.  Vaal lyk die lewe daar.  Uitsigloos.

Image

Maar, soos dit met alle soorte huise gaan, is daar ook plakkershutte en plakkershutte.  Ek self stap baie oggende douvoordag deur ons plakkerskamp waar daar dan nog slegs uit een of twee skoonstene ‘n rokie krul.  Ver stap ek teen die bult uit en wanneer ek terukom, is die inwoners wakker en groet my vriendelik en  knoop soms ‘n geselsie aan.  Soms stap ek alleen en soms saam met ‘n paar vriendinne.

Image

Die mense is meestal gemoedelik en rustig.  Hulle het hier kom bou, onwettig, omdat daar nie meer plek in die agterplase van Pienaarsig was vir hulle nie. Hulle wag op huise. En al is so ‘n hut ongerieflik ( ek het al deur een van hulle gestap)  is dit baie meer leefbaar as die hutte in Kayelitsja.  Vir een ding is daar ruimte.  Vertrek op vertrek.  Slaapkamer op slaapkamer.  Groterige vertrekke met stukke mat en linoleum op die vloere, die sinke op baie plekke vol gaatjies, sodat die wind daardeur huil in die winter en die reën binnedring in die somer.  Sinkplate wat onleefbaar warm bak in die fel Karooson.

Image

En tog.

Hulle het soveel meer as die mense rondom die groot dorpe en stede.  Hulle het ‘n uitsig.  Privaatheid.  Ruimte.  Die dinge wat ‘n mens nodig het, glo ek, om mens te bly.

En omdat die hutte een-een staan, het elkeen ‘n identiteit.  Kan mens hulle bekyk en bedink en bewonder.  En wonder.  Wonder oor elke eienaar, oor sy boustyl en die manier waarop hy na sy werf omsien.

Sommige van die hutte is sommer net aanmekaargetimmer.  Daar is geen plan, geen poging tot die estetiese, geen trots aan nie.  Een van die hutte se dak is sommer so laag.  Dis net ‘n inkruipplek.  Sy baas leef skaars hoër as ‘n dier.   As jy rondom kyk, sien jy net rommel.

Dan is daar die ou wat ‘n stel koedoehorings bokant sy voordeur vasgesit het.  ‘n ‘Statement’.  ‘n Eie identiteit.  Iets wat hom onderskei van al die ander.

Een het ‘n rooi voordeur.  Dit sê mos iets van die eienaar.  Dit wil vir my iets sê van optimisme.  Van individualiteit. Van hoop.

En dan is daar die man wat sy huis groen geverf het.  Ja-nee, al woon hy in ‘n plakkershut, hy het tog ‘n manier gevind om genoeg geld te maak vir verf.  Sy huis is goed beplan, goed uitgelê.  Sy vrou het ‘n kantgordyntjie voor die venster gehang.  En die werf is skoongevee.  Nie ‘n papiertjie sal jy daar sien nie.  Selfs ‘n paar vrugtebome wat al ogeskoot raak….  Dié man het ‘n plan boontoe.  Hy wil nie maar net in die stof sit en vergaan nie.  Wie weet, dalk sal hy sy eie geluk kan skep.  Hopelik op ‘n eerlike manier.  By navraag vind ek uit wie die man is.  Hy bedryf ‘n groentetuin.  Verkoop op redelike groot skaal groente aan die gemeenskap van Pienaarsig en Bethesda.  Ek het al baie kere by daardie tuin aangery daar bo in die ‘lokasie’ om kool of groenbone te koop.  Sy vrou werk saam met hom in die tuin. 

Wel, ten minste probeer hy……as jy so na sy huis kyk.  Dalk het hy meer aanspraak op ‘n hupstootjie boontoe as die man met die pondok waar jy net gebukkend in kan gaan….

Image

Image

Wat maak dat een man vir hom ‘n pad boontoe woel, op watter vlak hy hom ookal in die lewe bevind, terwyl ‘n ander in die stof  van ellende en moedeloosheid versink? 

Advertisements

2 thoughts on “HUIS, PALEIS, PONDOK, VARKHOK

  1. Ja,mens wonder hoe op watterstadium mens heeltemal in moedeloosheid versink en nie meer omgee nie.Dis ‘n hartseer storie,maar tog positief.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s