TERUGBLIK OP DIE FEESTYD IN ONS STOFSTRAATDORPIE

Dis ‘n koel Maandagoggend.  Die hitte van die afgelope dae is gebreek deur ‘n welkome buitjie reën.  ‘n Groot stilte het oor ons stofstraatjie-dorpie gaan lê.   Die stof van die laaste besoekersmotor het lankal weggewaai. 

Ons kyk terug op ‘n woelige tyd.  Bed-en-ontbytplekke was tjok-en-blok.  Eetplekke kon omtrent nie voorbly nie.  Die straatjies het gewemel van die vreemde gesigte wat in vrolike verrukking al Bethesda se juweeltjies ontdek. –  Die gekabbel van die sprankelende koel water in die leivoor.  – Die ou meule met sy waterwiel.  – Die asemrowende sterrehemel snags.  Jakob se donkiekar het fluks besigheid gedoen.  Jy’t net sien donkie-ore verbywikkel.  Mense het op Ganora gaan fossiele en rotstekeninge kyk. 

My eie kinders, almal uit die stede, het hulleself met groot entoesiasme in al die aktiwiteite van ons dorpie ingewerp.  Lang wandelinge deur die strate en teen die bulte uit.  Lui kuiertjies in die Ibis en by die Melting Pot.  Koffie by die Karoo Lamb.  Snuffeltydjies by Karoo Kaya, die Ibis, Grace designs en Karoo Stuff.  By elke winkeltjie en plekkie het hulle ingeloer. 

Die kuiers op Doornberg het hulle baie geniet.  Onder die koel bome was daar altyd ‘n swetterjoel mense – familie, gaste, vriende wat gou inhol vir ‘n bier of ‘n lang glas koeldrank, kinders in die swembad, kinders op die trampolien.  Jongmense wat jolig kuier en kaartspeel.  Of sommer net gesels.

Hanna het altyd komkommerkoel reggestaan met iets koels om te drink,  tussen al die roesemoes van gaste deur nog gereed vir ‘n vinnige kuiertjie.  Peet het ons jongklomp uitgeneem op ‘n ‘game drive’ – onvergeetlik, veral vir die ou kleintjies. 

Met sy eiesoortige intensiteit wou my seun weet waarom Bethesda nie beter bemark word nie.  “Weet ma hoeveel geld kan hierdie dorpie maak as julle net wakkerskrik?  Hoekom is hier nie ten minste vier georganiseerde fietsritte elke jaar nie?  Ons sal hierheen stroom uit die stede!  Julle het ‘n juweel hier, maar julle steek dit weg!” 

Soos ‘n deurwinterde Kapaaislander glimlag ek net en skud my kop.  Wat help dit ek verduidelik dat dit juis hierdie rustigheid van die dorpie en die mense is wat hom onbewus so bekoor?  Juis omdat dit so ‘n goedbewaarde geheim is,  kan hy soggens enige rigting met sy fiets inslaan sonder om hordes mense raak te loop – kan hy die wydheid en stilte van die Karoo ervaar.  Juis omdat ons dit nie aggressief bemark nie, kan sy driejarige seuntjie veilig met sy skopfietsie deur die strate ry saam met Pappa en oom Thinus en Tiaan. 

Hier is nie ‘n OTM nie.  Hier is nie juis veel van ‘n winkel nie, net die Winkel met ‘n agterstevoor K wat ook maar gou uit brood en voorraag uit raak met so baie voete in die dorp.  As die brood opraak, bak ons kitspizza of gaan eet by Bruno.  As die slaai opraak, vind ons ‘n paar spinasieblare in die tuin en slaan ‘n heerlike slaai aanmekaar.  Ons kap maar hier so rustig aan, kom klaar sonder goed, improviseer.  En ons gaste kom laai hulle batterye hier in die sleepvoetrustigheid van ons klein gehuggie. 

Hulle skud hulle koppe en sê: “Jitte, as hierdie lot net wakker skrik!”  En ons glimlag, want ons is wawyd wakker, en daarom kan hulle vars en uitgerus teruggaan na hulle besige lewens sonder dat hulle vinnige pas aan ons afsmeer.  En volgende keer kom hulle weer.  So gou hulle kan.  Om te kom uitrus. 

Image

Advertisements

One thought on “TERUGBLIK OP DIE FEESTYD IN ONS STOFSTRAATDORPIE

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s